Ons kyk terug na van Inspirasiekos met SARIE se beste episodes, in samewerking met Spekko. Hierdie week pluk SARIE se kosredakteur, Herman Lensing, waterblommetjies in die Boland.
As daar ’n postergirl vir die Kaapse-kontrei moes wees sou dit beslis die waterblommetjies gewees het. Dié vroulike-blommetjie wat in die vleilande groei. Sy is geurvol en stowe jy haar stadig tot ’n sagte moeserigheid is die resultaat ‘n bredie wat jou gaste se harte sal warm maak!
My soektog na die stories agter die kos en waar dit vandaan kom het my geneem na Heinrich Lategan van Lateganskop buite Worcester. Hier groei waterblommetjies ruim onder sy hande. En sy liefde vir die Kaapse nooi het my geïnspireer om met nuwe oë na haar te kyk.
![Inspirasiekos 1 Waterblommetjies 1]()
Heinrich het my laat proe aan die baba-blommetjies, die smaak het my lewe verander! Die groen, rou smaak is vars en vol geur – as jy jou hande daarop kan lê probeer dit. Marineer dit in olyfolie, suurlemoensap en brandrissie. Sit dit voor as sambal saam met kerrie!
![Forage_Oct-Nov-3]()
Waar kry ek die blomme?
Dis nou waterblommetjie-tyd en die supermarkte se rakke kreun onder dié blommetjies.
• Food Lover’s Markets
• Sommige Spar-winkels
• Checkers landwyd
Hoe maak ek dit skoon?
Meeste van die blomme wat jy in die supermark koop is reeds skoon gewas (lees op die verpakking om seker te maak). Maar as jy dit self oes of ongewas koop maak só:
1. Was eers die blomme onder lopende water – maak seker jy was tussen die blare om soveel van die sand en moontlike vuilgoed te verwyder.
2. Plaas blomme in skoonbak en bedek met koue water – maak seker daar is genoeg water in die bak sodat die blomme dryf.
3. Sprinkel ruim met sout en meng deur die water en blomme.
4. Laat staan dit oornag in die yskas, verkieslik, of vir 3 tot vier ure.
5. Dreineer blomme en spoel hulle deeglik af om van die sout ontslae te raak.
![Forage_Oct-Nov-13]()
Hier is my resep vir waterblommetjie-en-lamskerrie
- 30 ml olyfolie
- 500 g kort lamskenkels
- sout en varsgemaalde swartpeper
- sonneblomolie
- 3 uie, gekap
- 1 x 410 g-blik gekapte tamaties
- 10 ml fyn komyn
- 10 ml fyn koljander
- 4 kardemomsade
- 2 ml fyn kaneel
- 4 knoffelhuisies, fyngekap
- 30 ml suurlemoensap
- 1 blik klappermelk
- 30 ml masala
- 20 ml borrie
- 5 ml brandrissievlokkies
- 250 ml water
- 500 g waterblommetjies, skoongemaak
Verhit oond tot 200 °C. Gooi olyfolie in ’n groot oondbraaipan en plaas lamskenkels in pan. Geur met sout en swartpeper. Plaas in warm oond en oondbraai 20 minute of tot bruin. Maak intussen die kerriesous. Verhit sonneblomolie in ’n groot oondkastrol met ’n deksel. Braai uie tot sag en deurskynend.
Voeg res van bestanddele by, behalwe water en waterblommetjies. Laat prut sowat 10 minute. Verlaag oondtemperatuur tot 160 °C. Plaas skenkels in sous en voeg water by. Skep 2/3 van waterblommetjies in en geur goed met sout en peper. Maak kastrol toe en plaas in oond vir sowat 2 uur. Die vleis moet heerlik sag wees. Maak pot oop en roer deur met houtlepel. Pak laaste 1/3 van blommetjies bo-op en maak pot weer toe. Bak nog 15 minute en sit voor.
![herman inspirasiekos via]()
Gebraaide amandelrys
- 45 ml olyfolie
- 1 ui, fyngekap
- 2 knoffelhuisies, fyngekap
- 20 ml swartmosterdsaadjies
- 320 ml basmati-rys
- 1 x 100 g-sakkie gevlokte amandels
- 640 ml hoenderaftreksel
- sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit die olyfolie in ’n middelslag-braaipan tot goed warm. Voeg die ui en knoffel by. Roerbraai 3–5 minute of tot dit begin verbruin. Voeg die saadjies by en braai tot hulle begin oopbars. Voeg die rys en amandels by en roerbraai nog 2 minute. Gooi die aftreksel by en kook 10–15 minute of tot die rys gaar is – gooi nog vloeistof by as dit nodig is. Geur goed met sout en peper. Sit voor.
“Quick Fix”: Waterblom-tempura met jogurt
- 12 waterblomme, skoongemaak
- 12 hout-sosatiestokke
- 240 g (500 ml) mielieblom
- 30 g (50 ml) koekmeel
- 15 ml heel komynsade
- 1 eierwit
- 200 ml sodawater
- olie vir diepbraai
- 250 ml jogurt
- 25 ml kruisement, gekap
- 25 ml basiliekruid, gekap
- sap van 2 suurlemoene
- sout en varsgemaalde swartpeper
Ryg waterblomme op sosatiestokkies. Sif mielieblom en koekmeel saam. Voeg komyn en eierwit by. Gooi genoeg sodawater by om ’n gladde, loperige beslag te maak.Verhit olie tot warm in middelslag-pot. Doop blomme in beslag en plaas in warm olie. Braai tot goudbruin en bros. Dreineer op kombuispapier. Meng res van bestanddele en geur goed met sout en peper vir ’n lekker doopsous om saam met die waterblomme voor te sit.
Waterblommetjie-samoesa
![Inspirasiekos 1 Waterblommetjies 2]()
Baba waterblommetjies word gemarineer as sambal vir die kerrie
Waterblommetjie-samoesa
Sit die happies as voorgereg voor of peuselhappies voor ’n kuier!
genoeg vir 12
• 45 ml olyfolie
• 1 ui, gekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 30 ml geroosterde masala
• 8 waterblommetjies, fyngekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 45 ml koekmeel
• 45 ml water
• 12 samoesa-velle
• Canola-olie vir diepbraai
• Ongegeurde jogurt vir voorsit
Verhit olyfolie tot warm in groot braaipan. Voeg uie, knoffel en masala by en roerbraai vir sowat 3 minute of tot geurig.
Voeg waterblommetjies by en roerbraai nog 1 minuut. Verwyder van hitte en geur goed met sout en peper. Meng koekmeel en water saam om meelgom te maak. Skep lepels vol van dié vulsel op die punt van die samoesa. Vou ’n samoesa-vorm en verf die punt met van die meelgom om dit stewig te seel. Herhaal proses met die res van die velle. Verhit olie tot warm en diepbraai die samoesas vir 3 tot 5 minute of tot goudbruin en bros. Dreineer op kombuispapier en sit warm voor met jogurt.
The post Boland se ‘postergirl': Waterblommetjies appeared first on SARIE.